| |
Mense, ons het hierdie vakansie die kans
gehad om bietjie uit te reik buite ons grense, en om die minste te sê, dit was
‘n “eye opener”!
Een Sondag na kerk het ons bymekaar gekom en al die goed wat deur Brackendal
geskenk is – kos, klere, skoene, boeke, komberse, speelgoed, noem maar op - uit
te sorteer sodat ons Hennie se instruksie van God af kon help uitvoer – versorg
die armes en haweloses. Hennie en sy span is met twee karre vol goed na The Hill
toe waar hul dit by Fremar Ministries kon versprei met groot dankbaarheid. Daar
was ‘n berg se goed eenkant toe gesit vir die CMR wat ook afgelewer is so met
die winterkoue saam, en ons omgeegroep is na Emfuleni Lochvaal Welsyn toe met
drie voertuie vol goed. Dit is ook nie blote toeval dat ons by Lochvaal uitgekom
het nie – ons glo God het hierdie instansie aan ons uitgewys toe Gert en Alida
die informasie blaadjie aan ons gegee het ter inligting – God is groot en
almagtig – Hy het reeds vir ons die pad voorberei, ons moet net luister en begin
doen.
Emfuleni Lochvaal huisves 80 hulp behoewende blanke mense op ‘n plot. Daar
aangekom is ons hartlik gegroet en al die goedjies is met ‘n japtrap na die
store geneem en inventaris gedoen sodat alles na die beste van hul vermoë
versprei kan word onder die mense. Ons groepie is toe met trots deur die perseel
geneem op ‘n toer waar ons die groente tuine kon waardeer, sien hoe skoon die
kombuisie met die koolstowe is, hoe die tannie hard aan die werk is om klere reg
te maak, hoe die ooms wegtimmer aan hout om heinings te bou ens, die kinders
lekker in hul kamertjie speel / slaap waar die middag sonnetjie die plek
verhelder, hoe 22 volwasse mans in ‘n kamer so groot soos ‘n dubbel garage met
bunk beddens om ‘n TV saam kuier en die sokker kyk, hoe 12 vrouens met trots hul
kamer (so groot soos ‘n enkel garage) met geskenkte beddegoed kan versier,
familie kamers pragtig geverf om dit soos die huis te laat voel waar hul moes
wegtrek, die “donkie” hart aan die stook gehou word om warm water te voorsien
vir skoonmaak en bad tyd en daar vir ons deurentyd vertel word wat hul nog alles
beplan.
Hierdie is voorwaar ‘n plek van liefde en hoop ten spyte van swaarkry en armoede
en dit het ons net weer opreg dankbaar gemaak vir God se seën in ons lewens en
hoe ons elke oomblik moet gebruik om te kan teruggee – dit mag dalk nie met geld
wees nie, maar met alles wat ons al uitgebruik het – sal hierdie mense ‘n nuwe
begin mee kan maak! En die belangrikste is die saam kuier en gesels.
Dus wil ons ‘n beroep op jul maak – enige iets wat jul dink onbruikbaar is –
Gert en Alida ry gereeld Lochvaal toe en kan maklik goedjies daar gaan aflaai,
anders maak ons dit ‘n groot uitreik van Brackendal se kant af en julle ry saam
soontoe om goed af te laai – hierdie is ‘n uitreik wat deur ieder en elk
ondersteun kan word en wil ons jul uitdaag om een Sondag-middag af te staan en
vir Emfuleni Lochvaal Welsyn te gaan kuier – al vat jul nie goed soontoe nie –
al reel jul net om ‘n koppie koffie en ‘n stukkie koek saam te gaan geniet – of
om sop te gaan maak vir een maaltyd – of ‘n lekker braai te gaan hou – dink
bietjie twee keer wanneer jy in die winkel inloop en net gou R300 spandeer – dit
kon een maaltyd vir 800 mense verskaf het! Hul het plafonne in hul kamers nodig
– hul het plantjies vir die groentetuin nodig – komberse, warm klere, noem maar
op – niks sal te versmaai wees nie. Mag ons Jesus se oproep in ons lewens hoor
en Sy voete en hande wees en gaan doen!
Groete
Jan en Sonja se Omgeegroep
|
|